0Comment

Daar’s hy, daar’s hy mense!  (Dankie, dankie.)  Sjoe!  Ja, nee, kyk, hier is ons nou, hier is ons nou.

Baie dankie dat julle almal tyd afgestaan het om na my te kom luister.  Ek weet, ek weet, almal se tyd is maar kosbaar en ek sal julle nie lank besig hou nie.  In elke geval het ek ‘n afspraak by die Franse Ambasade.  Ja, nee, ek vat vir vroutjie bietjie Europa toe die vakansie en my Sjengin-visum het juis nou van alle tye verval.  Gelukkig vir iets soos contacts in die lewe, nê?  Wat sou ons by hierdie maatskappy gedoen het sonder contacts, huh?  En as jou contact se jy kan gou kom, dan spring ‘n man.  Ja nee, Robert, Besturende Direkteure moet ook so nou en dan bietjie gaan vakansie hou!  Dit moet ook gebeur, ja.  Dit moet ook gebeur…  Waar sit ou Pietman, ons liewe voorsitter van die direksie, uhm… daar’s hy!  Daar sit jy, Pietman!  Kruip jy weg vir my?  Jy weet, ek sou ook weggekruip het van skaamte as ek jy was!  Huh?  Mense!  Kan julle glo dat die man vir hom ‘n nuwe Land Rover Discovery gaan koop het!  Nee, man, Pietman, daar moet fout wees met jou!  Ek moes jou lankal in my nuwe Toyota Prado laat ry het dat jy kan voel hoe ry kwaliteit!  Maar, nee!  Nou gaan skaf hy vir hom ‘n nuwe Land Rover aan.  Ek sou ook so tussen al die mense weggekruip het van skaamte as ek jy was, ou Pietman.  Ag, toemaar, die Prado sal altyd gereed staan om jou uit die moeilikheid te trek, pel!  Altyd gereed.  …Skuus?  Nee, nee, nee, nee, daai een tel nie, Pietman.  Daai keer toe ons Ponta da Oura toe was het ek vergeet om my wiele af te blaas en TOE val die Prado vas in die sand.  Daai een was die tyres se skuld, nie die Prado se skuld nie.

Maar wag, voor hierdie Pietman weer verder groot nonsens praat, kom ons kom uit by die sake van die dag.  Of liewer, die GROOT saak van die dag.  Die rede hoekom almal hier by DellaTech hulle rekenaars vir ‘n rukkie afgesit het, om hierdie belangrike personeelvergadering by te woon.  Ja, want almal weet dat die huidige finansiele diskoers in Suid-Afrika ook DellaTech kom besoek het.  En dit is vir ons almal hier ‘n probleem want…want DellaTech is vir ons almal belangrik.  Ons is lief vir hierdie maatskappy.  Party van ons was hier van die eerste dag toe my en Pietman se pa dit gestig het.  Waar is tannie Sarah…tannie Sarah?  Daar sit sy!  Hoe lank is tannie al hier by DellaTech?  Nege…skuus, nege en twintig jaar!  Nege en twintig jaar, nê?  Sjoe!  Dis ‘n leeftyd.  Wat gee mens vir 30-jaar goeie diens?  Nee, ek dink daai goue horlosie wat ons alreeds vir tannie gegee het, nê?  Ons top net bietjie die goud op wat alreeds afgeskraap het en ons gee net die refill van die goue pen wat ons al vir tannie gegee het.  Ja, nee ek dink dit is wat ons doen.  Haha.  Maar jitte nê?  Nege en Twintig jaar!  Wys jou hoe lief ons mense hierdie maatskappy het.  Dis nie ‘n maatskappy nie, mense, dis ons lewe.  Dis nie ‘n maatskappy nie, nee, dit sorg vir ons want ons sorg elke dag vir hom.  DellaTech is die bloed wat deur ons are vloei, die rede hoekom ons elke oggend opstaan.  Nee, mense, dis nie net ‘n maatskappy nie.  Dit is die sin van ons bestaan.

Maar hoe gaan ons dit uit die moeilikheid kry, vra julle my?  Wel, mense, ek stel bekend: Operasie Phoenix.  Operasie Phoenix.  Met Operasie Phoenix gaan ons hierdie maatskappy regruk na dit wat dit was in die verlede, die DellaTech wat ons geken het in die verlede.  Soos die vervalle voël in die Griekse metologie, gaan ons opstaan uit die as uit,ja,  gaan ons as’t ware hergeboorte gee aan hierdie maatskappy, dit vernuwe en dit herstel in ons almal se harte.  Nee, nee, mense, ons gaan dit ‘n groter plek gee in ons harte want dit is waar DellaTech hoort!

Nou mag jy daar sit en my vra of ons gaan posbesnoeiings doen.  Ja…ja party mense wat hier sit gaan wel hul werk verloor maar, dames en here, dit is tog immers ‘n klein prys om te betaal om DellaTech te red.  As die Prado se wiele vasval  by die dik Mosambiekse sand van Ponta de Oura, dan blaas ons maar tyres af om verder te kan ry.  Ons los nie die Prado daar nie!  Ons blaas net die tyres af, dis al.  Ons gee mense hul vryheid om te gaan doen wat hulle altyd wou.  Tannie Sarah, dink net aan al die lekker dinge wat tannie by die huis kan doen as tannie nie meer elke dag hoef te ry na DellaTech toe nie.  Die lewe se geleenthede lê skielik oop voor tannie, dis net om te kies watter een tannie gaan gebruik.  Huh?  Is dit nie wonderlik nie?  Ons gee mense hulle vryhede terug en ons red DellaTech in dieselfde asem.  Mense, ek weet nie van julle nie maar dit is goeie nuus!

Maar my contact by die Franse Ambasade wag vir my en ek moet afsluit.  Ek wou egter net almal eers die versekering gee dat ons as bestuur van DellaTech julle nie weggegooi het nie en dat ons DellaTech se belange altyd op die hart dra.  Hierdie maatskappy word nie vir die wolwe gegooi nie!  Dames en here, kom ons vat Operasie Phoenix en maak daarvan ‘n sukses.  ‘n DellaTech sukses.  Jaaaa!!!

 

(Eerste opgevoer deur Zander Noome 2016 in Centurion en die ArtsCape, Kaapstad – Jy was ‘n briljante Besturende Direkteur!)

Save

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *