0Comment

HARDLOOP, DIRK

“Dirk le Grange, as jy weer omdraai om te gesels is die duiwel los in die klas, het jy my?” Dis juf van Heerden.  Sy is altyd ewe erg – met of sonder haar besem.  Somtyds hardloop sy so vinnig met die besem na jou toe, jy kan sweer sy vlieg regtig op die ding!

Ag, ek is seker maar altyd in die moeilikheid.  Jy soek nie daarvoor nie – dit kom sommer net vanself.  Vat nou die keer in mnr Boshoff se klas.  Ek was genuine besig om te werk toe ek ‘n klein leesfoutjie mos maak.  Regtig.  Die keer het ek nie probeer snaaks wees nie.  Ek haak vas met ‘n woordjie en dog ek vra mnr Boshoff: “Meneer, wat beteken seksvol?”  Die helfte van die klas wou begin lag maar mnr Boshoff is nogals beneuk – hulle hou hulle in.  “Seksvol?  Ag regtig, Dirk, voel dit alleen?”

Ek is ietwat verbaas.  “Hoe nou meneer?”

“Voel dit alleen?  Dirk, ek praat nou van daai enkele breinsel van jou – voel dit alleen?  Swem daar bo in jou kop, stoksielalleen.  Shame, die blêrrie ding kan ook net aan een ding dink, nê? Ook dan is dit ge-overload!

Nou’s ek eers verward: “Wat nou meneer?”

“Ag, nou is daai enkele breinsel nog verward ook – sukkel om self die rigting waarin hy moet swem te bepaal!  Kom ek wed jou seksvol staan NIE  in daai EBW-handboek van jou NIE!”

“Regtig, meneer, dit doen!  Kan ek meneer wys?”

“Bring Dirk, dit wil ek sien!” Ek loop vinnig na Bossie se tafel toe.

“Volgens my breinselLE staan daar nie SEKSVOL nie, Dirk!  Daar staan SUKSESVOL!  Byvoorbeeld, jy het SUKSESVOL jou naam met ‘n plank in hierdie klas geslaan.  Gaan sit man!!!”

TOE lag die klas!  Ek probeer nog “ha-ha-ha” sarkasties na hulle toe swaai maar niemand hoor nie.  Lekker poef gevoel, hoor!

Sit die ander dag saam met Shooter, dis nou my beste pêl, agter die saal se muur en rook.  Niemand kom gewoonlik daar nie.  Ons twee kyk wie van ons kan ‘n perfekte sirkels blaas – jy weet, amper soos ‘n enlgeltjie se hyloutjie; en as jy wen, is jy die rook Engeltjie tussen ons twee!  So blaas ons toe mos ons  bubbles, baie rustig.  Vergeet skoon dat dit wat ons doen nie heeltemal in die skool se reӫlboek staan nie!  Jip!  Hoofseun!

“A-ha!  Stap saam met my!”   Ons stap agter hom aan.  Word vyf dae geskors by die skool – my oom was woedend vir my, to say the least!  Lyfstraf mag af wees by die skool maar nie by my oom se huis nie.  “Ek en jou ma is so groot gemaak met die lat en ons het niks daarvan oorgekom nie, so kom mannetjie, laat jy buk! Vinnig!”   SES houe!  En toe kom die houe wat die seerste gemaak het:  “Jou ma sou nou nie juis op jou trots gevoel het nie, Dirk.  Sies, man!”

Moes hy nou juis my ma hier ingesleep het!  Ek voel lus om hom te klap maar ek hou my in.  Ek verlang nogals na haar.  Nie juis na my pa nie.  Ek wens soms ek het ‘n pa gehad maar nie HY nie.  Nope, hy is nie ‘n pa se gat werd nie.  Die skoolsielkundige het gesê: “Dirk, elke mens maak foute.  Groot mense ook.  Dit beteken nie hulle is slegte mense nie.  Jou pa kan net nie sy foutjie reg maak nie, dis al.”  Foutjie se blêrrie gat!  Hoe kan mens dit ‘n foutjie noem?  Dis nie eers ‘n fout nie.  Dis mal!  Dis siek!  Dis wat dit is!  My oom sê ek moet vergewe.  Hy kan vergewe as hy wil!  Hy was nie daai aand daar nie!  Maklik vir hom om te praat.  Sal dit nooit vergeet nie.  Eers my sussie in die kamer langsaan my – sy was net 7 jaar oud.  Ek het wakker geword van die skoot.  My ma het die gang af gehardloop.  Sy het vir my pa geskreeu om op te hou?  Hoekom doen jy dit, wou sy weet?  “Want ek wil nie hê julle moet langer in die nuwe Suid-Afrika verder leef nie!  Dis hoekom!” Toe gaan nog ‘n skoot af.  My ma was nie dadelik dood nie.  Sy het nog vir my geskreeu met haar laaste asem: “Dirk, hardloop….hardloop…hardloop…hardloop…”   Ek het my kamervenster gebreek toe my ma ‘n tweede, derde en vierde skoot kry… en ek het die nag in gehardloop… en ek hardloop nog steeds…

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *