2Comment

“Uhm…uhm…sjoe…hallo…uhm…oukei…as mens nou die waarheid vertel, hoef jy nie later te lieg nie…toe ek vanoggend by die deur uitstap, het ek vir myself gesê: ‘Myself, die laaste ding wat jy vandag moet doen is om jou speech by die huis te vergeet.’  Nie dat ek nie my speech ken nie, dis net…ag…julle weet?…uhm….ag, net om seker te maak ek vergeet dit nie, jy weet?”

Dan begin die dik-van-die-lag-manne te sing: “Hy lyk vir my so baie soos tan Koek se hoenderhaan!  Hy lyk vir my so baie soos tan Koek se hoender…….”

Kyk, om bestman te wees by jou beste pêl se troue, is seker ‘n voorreg.  Big time, ek weet!  Maar flip, om bestman te gewees het by Johan Westerman se troue, was ‘n heel ander ding!  Alles wat kon verkeerd gegaan het…nee!  Nee!  Meer as alles wat kon verkeerd gegaan het, het daardie dag verkeerd gegaan!  Westerman se speech was in sy glory in, man!  Ek het later gedog hy gaan voor daai mic aan die tjank raak, ek sê jou!

Maar daai mislukte speech van ou Wessie was nog niks!  Dinge het lelik begin skeef loop toe die kerkdiens moes begin, en loadshedding het gemaak dat die kerkorrel op strike gaan!  Oom Klaas Koster onthou toe mos skielik van 19-voertsek se kerkraadsplanne as die krag sou af gaan tydens ‘n erediens.

“Jong, nefie, iewers in die konsis-oorie moet nog ‘aai ou grammafoun-speler wies wat jy so half moet opwin omm’ie…omm’ie batteries bietjie te charge, jy weet?  Wag, wag hiesit nou.  Ja, man, wou mos seg daar moet nog ‘n grammafoun-plaat wees met die bruidsmars daarop.  Ah. Ja. Ja.   Jy, sien!  Daasy, ons is so reg soos ‘n roer van ‘n boer, nief!”

Ek stel toe die…grammafoun-besigheid op met die hulp van oom Klaas. Net betyds vir die bruid.  Pam-pam-pe-pam.  Die bruid stap stadig die kerk af met haar pa aan die arm.  Pam-pam-pam-pam-pam-pam.  Die fotograaf neem sy foto’s.  Die bruid en haar pa groet almal vriendelik.  Pam-pam-pam-pam….maar dis toe dat die Oom-Klaas-Kontrepsie mos skielik gaan stop.  Paaaam-paaaaaa…ek wen toe maar die ding op so vinnig so ek kan en laat los die ding se release-knoppie.  Die blêrrie ding begin toe mos dubble speed te speel.  Skielik kyk die hele kerk vir my aan asof ék die bruid is!  Maar die kwaaiste kyke kom van die bruid haarself, en ek moet sê, Johan Westerman se kyk het my ook bang gehad.  Nee, magtag, maak nie saak wat ek doen nie, die ding kontrêpsie hou aan op dubbel speed.  Oom Klaas het toe kom handjie bysit en my later vertel dat ek per ongeluk…iets soos die …kortspeelplaat se knoppie…of so iets gedruk het.  Jy het skynbaar toentertyd ‘n groot en ‘n klein plaat gekry en die moet met ‘n verskillende spoed gespeel word, of so iets.  My iPhone werk heel anders, wragtig, ek moet sê!

Maar shame, die ergste was seker toe Wessie se nuwe skoonpa ook ‘n paar gevleulde woorde wou sê met ‘n heildronk…en by hierdie heildronk plaas ons die klem op dronk want dit was nadat hy ‘n paar kappe ingehad het.  En boy-o-boy…het daai oom uit sy hart gepraat!

“Geagte familie, vriende.  G’n my die geleentheid om ‘n paar woorde met julle te deel uit my hart uit…Ek voel dat mens by hierdie geleentheid defnitief iets moet sê oor Walter.  Walter is nogals ‘n…wel, volgens my…’n handsome ou.  Hy het goeie maniere, het goeie geleerdheid.  Hy het ‘n job wat nogals goed geld inbring.  Hy kom uit ‘n baie goeie familie.  Kortom, vrinne, hy is als en meer wat ‘n skoonpa kan begeer!  Nou vir wat, vra ek julle almal hier, vir wat gaan staan en trou my dogter met Johan Westerman?  Huh?  So, vrinne, kom ons klink almal ‘n glasie.. op die nuwe Springbokafrigter!  Mag hy beter vaar as die vorige poepol!  Laat hy val waar hy wil…wag, wag, wag, wag…amper vergeet ek die belangrikste ding van die dag!  Mensig!  Sjoe, hehehe…dit was amper, nê!  Uhm, dames en here, ons drink ook op die voël… wat my nuwe skoonfamilie se kar so beskyt het by die kerk. Cheers!”

2 thoughts on “Troukoors – Nardus van der Vyver

  1. Hahaha, goud! Besonderse storie wat my goed laat smile. Ek was al twee maal ‘n best man en weet watse surkus ‘n troue kan wees.

    Dankie vir die lekker lag.
    Jean

    1. Hierdie is natuurlik net ‘n storie, maar dit kon net so wel die werklikheid gewees het. Met soveel dinge op ‘n troue, is dit noodwendig dat IETS moet skeefloop. Mense het letterlik gehuil soos hulle gelag het toe hierdie vir die eerste keer opgevoer was…
      Dankie vir jou belangstelling, Jean.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *