0Comment

Is dit tyd dat Spur sy naam verander na Stir?

Daar gebeur dit!  Twee kinders het ‘n meningsverskil met mekaar en raak glo handgemeen.  Dan gedra die ouers hulle soos kinders.  En beste van alles, die betrokke Spur gedra hul kinderagtig.  Spur se hoofkantoor meen hul kan nie die video’s van die insident wys nie (almal welkom om wel te gaan kyk) maar wys dit duidelik hoe hulle die aangeleentheid WIL hanteer – die een kry simpatie, die ander kry ‘n skop en word Spur verbied.   ‘n Wenresep vir misintrepetasies en ‘n oop deur vir misverstande sou ek sê…  En blankes, wat alreeds bedreig voel weens die politieke toestand, en dus oor die algemeen sensitief voel vir diskriminasie teen hulle, begin met ‘n suksesvolle boikot.  Nee, sê Dirk van Solidariteit, dis g’n boikot die nie!  Die mense het net hulle aptyd vir Spur verloor.  Niks is georganiseer nie.  Dis klante wat met hulle voete stem want Spur luister nie.  Dit gebeur spontaan soos met United Airlines waar klante weg bly want hulle word hardhandig geboelie daar.  Aldus Dirk.

Spur reageer deur “regse blankes met politieke agenda’s” die skuld te gee.  Spur kom tot die gevolgtrekking dis pre-1994-KP-kiesafdelings se Spurs wat die swaarste getref word.  Hulle kan nie dink vir hulle self nie, sê Spur, want hulle word opgesweep teenoor mekaar.  As hulle kon dink, sou hulle besef hulle is besig om blanke eienaars seer te maak wat so hard werk om skoolspanne te borg wat oorsee gaan en geld in te samel vir Afri-Forum.  Maar Dirk sê dis nou jare na die KP (baie wat eet by die Spur weet nie eers wat is die KP nie) en die huidige inwoners van daardie gebiede is nou DA-mense wat vir Mmusi  Maimane, ‘n swart man, stem.

As ek nou al ooit ‘n bedekte klap in die gesig gesien het, is hierdie reaksie van Spur teenoor sy x-kliënte defnitief een!  Weet regtig nie hoe mens iemand in die gesig kan klap en ook ter selder uur so huilerig kan wees dat jy moet terug kom Spur toe nie.  Flip Buys, hoor ek, meen dis die langste korporatiewe selfmoordbrief wat hy al ooit gesien het!

Terwyl Spur se hoofkantoor almal aanval, slaap g’n franchise-eienaar rustig in die nag nie.  Almal wonder hoe lank hulle nog deure kan oop hou by hulle takke.

Hierdie lyk my na ‘n sinkende skip.  Ongetwyfeld sal die naam moet verander – my voorstel is Stir!  Arme Spur-eienaars: julle gaan duur betaal vir nuwe stoele, menu’s en heropleiding van julle werkers voordat dit Stir kan word!  Van Tonder gaan weer nie na julle luister nie.  (Dirk sê juis die eienaars kla van Tonder luister nie na hulle nie.)  Maar solank die stokke in die hande van Farrelly en van Tonder is daar bo, sal min mense ook  lus wees vir kos by die nuwe Stir.  My beskeie mening egter.

Hier is ander ‘n ander gedagte aan die eienaars.  Destyds het Aventura-oorde almal Forever Resorts geword.  Rex Maughan, die nuwe eienaar, kon nie die logika van ‘n Spur by Badplaas insien nie.  Hoekom moet hy konsessies betaal?  Vat net van sy wins weg.  Hy het dadelik die Spur toegemaak, alles wat jou aan Spur herinder uit gehaal, die stoele oorgetrek en so is Gangsters gebore.  Die menu was aan die begin baie soos Spur s’n.  Hoekom die menu verander?  Mense hou daarvan en niemand hoef weer opgelei word nie.  Sederdien het die restaurant geskuif na ‘n ander gebou en is niks meer “Spurs” te siene nie.  Maar dit het destyds finansieel baie sin gemaak vir Rex en ek dink hy was reg.

Spur-eienaars: is dit nie tyd vir ‘n paar van julle wat bymekaar kom en dieselfde doen nie?  As 20, 30, 40 Spurs julle eie franchise stig, basies dieselfde wensresep van Spur gebruik (die insident natuurlik uitgesluit), jul gebruik wat jul kan gebruik binne julle huidige restaurante (stoele, tafels, eetgerei, ens sonder die Spur-embleem) en vervaardig net binne jul restaurant ‘n ander gevoel, ‘n ander kultuur as’t ware.  Dan gaan hulle groot met advertering: ons stem nie saam met Spur nie, ons het weggebreek, so min stem ons saam!  Ons vra jammer indien enige persoon seer gekry het.  Maar hierdie is nou JULLE restaurant.  Hier kan jy jouself weer geniet.

Julle sal sien hoe stroom julle ou klante skielik terug.  Hulle mis Spur.  Hulle soek ‘n nuwe tuiste.  Ek hoor juis die naweek ‘n ma kla: “Ag, dis jammer ons gaan nie meer Spur toe nie – nou moet ek my kind se partytjie by my huis hou!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *